@5:55

Bergbid 2022 het op 19 November 2022 plaasgevind. Mense van oral in die omgewing het die geleentheid bygewoon. Waarom hierdie inisiatief? Ons glo dat gebed sake verander en ons wil 'n positiewe bydrae in ons omgewing lewer.

Ek het vir baie jare gereeld in dieselfde omgewing gaan stap of met my bergfiets gery, totdat dit later nie meer veilig was nie. Ek onthou ook hoe klein groepies van ons dikwels berg toe is om daar te gaan bid. Dit was goeie tye en ons moet hierdie area weer terugeis van die ongewenste karakters wat nou daar nesmaak.

Dit is nie moontlik om die getal mense te bepaal wie Bergbid 2022 bygewoon het nie, maar die hoofsaak is dit: ons bid vir ons stad, Pretoria, in konteks van Jeremia 29. Ons bid vir huisgesinne, die kern van ons gemeenskap. As dit in ons huise goed gaan, gaan dit goed in die breër gemeenskap. Ons bid vir ons bure wie nie die Here ken nie, of dalk afgedwaal het.

Teen vyfuur was baie mense reeds op die berg en het die lofprysing begin. Ek het die reën nader sien kom uit die suid-weste. Terwyl ons nog in klein groepies gebid het, het dit begin sous. Soos wat ek in die groepie waar ek was, gebid het en die Here gedank het vir die wonderlike reën, was dit duidelik dat ons nie op die berg sou kon bly nie. Met die weerlig in die omgewing sou dit net te gevaarlik wees. Almal is druipnat berg af. Soos ek en my seun in die kar gesels het op pad huis toe, ons moet God se skepping respekteer. Hy het nie nodig om die weer te verander net om ons te pas nie. Soos wat ek hierdie boodskap tik, donder die weer en reën dit hard.

Ek dank die Here vir sy Gees, wie ons lewens voed met die lewende water van sy Seun, Jesus Christus. Bergbid 2022 het in sy doel geslaag en ons sien uit na volgende jaar. Baie dankie aan die organiseerders vir uitstekende werk! Besoek gerus die amptelike Bergbid webwerf.