Valve Audio SA

Valve Audio

Valve Audio SA is een van die toonaangewende ontwerpers en vervaardigers van top kwaliteit hibriede stereo buisversterkers in die wêreld. En ja, hulle is hier in Noordvandieberg land, in Doornpoort. Daar is so bietjie woordspeling in die maatskappy se naam. Nie net verteenwoordig "SA" Suid Afrika nie, maar dit staan ook vir "stereo amplification". Hulle fokus is op stereo (tweekanaal) versterkers.

Met 'n loopbaan wat iewers in die 80s begin het, is eienaar Schalk Havenga een van daardie unieke mense, met 'n passie vir dit wat hy doen. Wat begin het met 'n eenvoudige konsep – om "ou" buistegnologie in die moderne era in te bring – het Valve Audio diep spore getrap, nie net in die wêreld van hoëtrou klank in Suid Afrika nie, maar ook internasionaal. Hulle versterkers word veral in die VSA en Europa gebruik.

Die produkte word met die hand vervaardig en jy gaan waarskynlik na jou bestelling geplaas is 'n ruk moet wag vir jou versterker. Die oomblik wanneer jy dit egter in jou bestaande stelsel sit, gaan 'n nuwe wêreld van klankgehalte vir jou oop. Hierdie versterkers is eenvoudig in 'n klas veel hoër as dit wat jy by jou plaaslike elektroniese winkel gaan kry. Jou eerste ervaring wanneer jy met 'n Valve Audio produk kennis maak, is een van kwaliteit. Jou versterker weeg ook sommer baie, en jy moet gereed wees daarvoor as jy hom optel. Dan praat ons nog nie eers oor die afstandbeheer nie. Gesny uit 'n blok soliede aluminium, is dit nie jou gewone plastiek "remote" wat die hond wil opvreet as jy nie by die huis is nie.

Dit is nie aldag dat ons ontwikkelaars en vervaardigers van wêreldgehalte sommer hier in ons omgewing kry nie. Heeltemal plat op die aarde, soos ons mense hierrond ken, gaan Schalk jou groet met 'n ferm handdruk, 'n breë glimlag, en hope entoesiasme vir sy produk en ons omgewing. Indien jy meer wil weet, besoek gerus Valve Audio SA se webwerf.